Friday, 25 January 2013

Valsbaai

Valsbaai

vanaf die Steenbraspad se uitkykkrans
in ‘n winkelhaak-omhelsing
van bergkrans tussen Hangklip en Kaappunt
lê Valsbaai se kartelwater
so sereen en stil
en kan ek vandag met die oog
die sierpatroon volg
van seestrome
tot hieronder
waar skuimbranders sagkens oor die rotse streel
waagmoedig kompeteer seilskepies
om ‘n voorste plek vandag
nuuskierig vergesel
van ‘n skool speelse dolfyne
wat vinvlugtig klief
duik en seil
en as die son laatmiddag
skarlakenrooi
terugsink op die horison
se donker silhoeet
omsoom
met geweefde goud
sak ‘n dowwe deinserigheid toe
en ek sien waarskuwend
die eerste flits van die vuurtoring

Valsbaai
geboorteplek van die stormwind
flonkerliggies verraai waar’s
Vishoek Kalkbaai Simonstad
die ankerplek en speelplek
van die pikkewyn
tussen seebamboes
en bruingety op branders
die aardplek van aronskelk
en hotnotsvy op die duineveld
langs melkwit halfmaanstrande

No comments:

Post a Comment