Strand
met donkerbril op my neus
onder ‘n wyerandhoed
en belaai met ‘n strepiesonsambreel
twee rooi strandstoele
onder arms vasgeknyp
brand ek kaalvoet oor die zebrastreep
dis ‘n mooi dag vandag
teen wit vlieswolkies
lê die skiereiland helderpers
en blou-blou
afgeëts
en nou met laagwater
hier op Melkbaai
spoel wit brandertjies om my enkels
en spat yskoud
teen my kaal bene op
netnoumaar
wieg ek agter op die golwing
vandag ná Paas-Maandag
is die strand weer ons s’n
wydgestrek
leeg en skoon
‘n April-stil dag
‘n dag waarin jy die Skepper orals sien
in die skakerings van die see
borrelende krapgaatjies in die natsand
‘n kleuter aan die hand
twee witkoppe sy aan sy
die son se streling op my vel
ons klink ‘n blikkie Coke
kou aan ‘n samoosa
en leun welbehaaglik agteroor
salig
om mens te wees
alles nog só te kan geniet
en die dag se gawes
aan te gryp
No comments:
Post a Comment