Eb
dis weg
dis weg
soos ‘n leë plastiekkardoes
lig opgeswiep
deur die suidoos
ver weg vervloë
is ons jonkheid
die droom en ideaal van gister
die planne vir die môre
die hoop gerig op ‘n horison
soms sleur die einste plastiekkardoes
op hoogwater weer terug
en lê dan half-vol seesand
as die ebgety terugtrek
swaar
soos ‘n vasgevalde siel
ontsierend
op die mooi wit strand
wat was
sal nooit weer wees nie
ek voel meteens magteloos
daar’s ‘n kilte om my hart
en ‘n donker stilte omgewe my
ek voel ‘n leemte van verwyt
en ek wens ek kon weer
teruggaan in tyd
aanmekaar las en lym
wat stukkend was en seer is
regmaak
en óórleef
No comments:
Post a Comment