Thursday, 31 January 2013

Naggeluide

Naggeluide

dis halfdrie na middernag
iewers in die huis tik
die horlosie
eentonig ure af
‘n deur ratel liggies teen die kosyn
en die windklok klingel
sy eie melodie
voor by die deur
in die nagtuin vlak by my venster
kriek twee amoreuse krieke
in morsekode
hul liefde vir mekaar
en voor op die strandduin
skel ‘n kiewiet
onthuts
op sy nagtelike terrein
‘n nagmot klap-klap teen die straatlig vas
veraf ruis die see
soos in ‘n skulp hier dig teen my oor
‘n hond in die township
blaf aanhoudend
en die blitspatrollie-sirene
skrei deur die nagstilte
op die deurpad verby
dan is dit dagbreek
en die muezzin roep
Allah

Gordonsbaai

Gordonsbaai
in kolle skadu
van die ou melkhoutboom
skrop ek nes in die sand
‘n luilekker-lêplek
en pak my piekniekmandjie uit
die koelte
en koesterende son
spoel afwisselend in golfies
oor my lyf
en my tone teken
patrone op die sand
ek rangskik doppies
skulp en klippies
soos ‘n kind wat vir die eerste keer
die strand se skat
ontdek
‘n roomyskarretjie
klingel hoopvol verby
hier voor my op die rots
skud ‘n duiker sy vere reg
op die deining wieg vissersbootjies
en in die verte
lê die persblou skiereiland
wasig agter ‘n sluier deinserigheid
dan knipoog en wink
die wit brandertjies vir my
kom ons speel
tussen rots en wier
dis puur plesier
yskoud
bruisend soos sjampanje
ek tintel
en gryp die dag

Mis

Mis

die digte oggendmis
lê vanoggend
vlak
by my voordeur
ek hoor iewers naby
die tarentaal se skel
en ruik die spoor
van die ebgety
niks
is sig- of tasbaar nie
maar ek weet
teen tienuur sal die son weer skyn
ek sal weer alles
duidelik
onderskei

Net maar tydelik..

Net maar tydelik
 
op die hoogwatermerk
lê die uitskot van verganklikheid
eenkant
uitgespoel
as ek knarsend aangestap kom
oor die skulpgruis
ruik ek reeds die dood
in bolle rooiaas
wat stinkend op die strand
ontbind
hier moet ek fyntrap
oor die dop van ‘n krap
met net drie pote
‘n sandhaai wat witpens na bo
grynslag
met ‘n oop bek vol skerp tandjies
en hol oogbanke
gister se ywerige seemeeu
wat eenkant
oopgespalk lê
in sy doodskleed van nat vere
ontsier met growwe sand
skulpgruis en koeksels wier
die eens-sierlike deurskynende kwal
wat nou vergaan het
tot drillerige jellievis-lyk
waaraan ‘n horde slak-asers lustig vreet
‘n plastieksak halfvol sand
lê soos ‘n verlore siel
ook
vasgeval in die getypoel
‘n koeksel vislyn
‘n plastiek-haarkruller
‘n baba-fopspeen
blikkies en pakkies
berei die plek vir ons voor
soos konfetti by ‘n bruilof

Alomteenwoordigheid

Alomteenwoordigheid

ek sal jou herken
orals
op bekende plekkies
elke somersdag weer spore trap
op die nat sand
in die lag van my ligte luim
hoor ek jy eggo
terug
dan is jou hand in die streling
van die seebries
oor my wang
jou waarde in die aand
se skemerglans
en jou vingerafdruk
op die maan
ek hoor jou
sentiment
in die klank van ‘n bekende melodie
ek sien jou op elke bladsy
van my lewensboek
aan ‘n geliefkoosde kussing
en in die geur van ‘n gereg
ruik ek steeds
jou nabye teenwoordigheid

Groot Sewe

Groot Sewe

log en knoetsig
dog ligwiegend
dryf jul
op die deining van die baai
en verklap jul ligging
met vee-spuit
en diep basuin
die golwe spoel
strelend
koel
oor jul blink lywe
dan
skielik
spelend
stertpronkend
groet jul
en sak terug
in die beskutte diepte
van die see

Dolce Vita

Dolce vita

ja
ek tel my seëninge
een vir een
daagliks
die daeraad oor Valsbaai
is perskerosig
en saggeel soos heuning
ek trap nat spore
voor die deur op die môredou
wat koel oor die grasperk lê
die deining van die see
klots-klots
teen die voorste rots
die misterie
mistigheid
en vreemde klanke van die nag
die loei en swiep
huil en sing
van die stormwind
is verby
vergete en reeds vergeef
want die soutlug is vanoggend sag
ek proe dit op my lippe
en voel dit aan my wang
die winklok klingel
fyntjies
die kanarie tril
suiwer
sy dankbaarheid uit


die malteser lek selfvertroostend
aan sy porsie been
en vanaf sy balkontroon
bespied
die gemmerkat sy terrein
‘n trop tarentaal wei
gespikkeld
om die maalklip rond
die witte behoedsaam
eenkant

haai
dis amper tyd vir tee