Strandloper
o
ruik jy die soutlug van die see
op die ligte bries
kom
stap strandlangs
dis ebgety
die natbruin rotse lê
ontbloot
en offer hul opbrengs
‘n skat
van skulp en wier en seebamboes
in ‘n getypoel
inspekteer deursigtige vissies
‘n geroeste blik
ek wonder waarvandaan
en hoelank al
in lang seestewels
staan ‘n enkele visserman
vandag diep
geduldig
miskien al moedeloos
dalk is vis maar skaars
in hierdie sloep
op die hoogwatermerk
lê die uitskot van die see
opdrifsels plastiek
‘n klos gekoekte vislyn
die been van ‘n pienk plastiekpop
en iemand se dooie hond
stokstyf met pote na bo
teen die gesigseinder
ver diepsee in
lê die horison
van skiereiland en see
afgeëts
‘n donker streep
baftablou
No comments:
Post a Comment