Thursday, 24 January 2013

Klaradyn

 
Klaradyn
wil jy wals vandag in koningsblou
Klaradyn
of polkadans in groen
wil jy tiekiedraai
dat ons ry op ry
jou uitskopvalletjies kan sien
of wil jy toi-toi
met wit vaandels omhoog
gretig
tartend
verder
vorentoe
kom dans Klaradyn
meesleurend
tergend
‘n tango in donkerpers
kom swaai verleidelik
‘n sensuele samba
of liggies
‘n slampamperwieg
in watertafsy van turkoois
miskien is dit maar jou af-dag
Klaradyn
dan spoel en klots jy
bruin en lui
oor rots en duin
kom vertel my Klaradyn
kom vertel
hoe jy swaai
en spoel
en speel
op maat van die wispelwind

No comments:

Post a Comment