Pot goud
laag in die Helderberg-kom
damp prismakleure
in ’n reënboog op
skarlaken
pienk en pers
geel en groen
vloei ineen
tot ‘n breë seintuur
van opwinding
en belofte
ons ry
onderdeur
die koepel van kleur
en ek besef meteens
sowaar
hier is mos ons pot van goud
dis die golwing van die see
smaraggroen
pers granietpieke
met diep grysblou skadu’s
oortrek van ‘n sagwit donskombers
dis die sonsondergang
skarlaken
met goud omglans
die flarde wolk
wasig
room en rosigpienk
dis ‘n seemeeu
wit
op wieke van die wind
No comments:
Post a Comment