Sedoos
wispelturig
tussen harmonie
van sagte melodie
of kragtige simfonie
dryf jou storm en drang
soos die Valkyrie in vlug
swiep en swaai jy
kerm en kla jy
lig vrypostig ‘n hoed
steel parmantig ‘n sambreel
pluk aggressief terug
wat jy wil hê
moet joune wees
en plak dit dan weer vies
net weer iewers anders
neer
jy daag skielik op
onaangekondig
onttrek of verdwyn
geheimsinnig stil
soms brand jy
en skroei venynig
soms streel en lispel jy
met die reën as jou reismaat
soms jaag jy wolke ongeduldig aan
of kruip jy listig weg
vir dae lank aaneen
om skelmpies te beplan
aan jou nuwe strategie
dan sien ons jou weer
dans
in dwarrels sand
of hoe jy huppel
van brander tot brander
in wit wasigheid
omhul
en ons
ons waai maar wapperend
soos wasgoed
of flarde plastiek aan die heiningdraad
op die maat van jou musiek
No comments:
Post a Comment