Thursday, 31 January 2013

Naggeluide

Naggeluide

dis halfdrie na middernag
iewers in die huis tik
die horlosie
eentonig ure af
‘n deur ratel liggies teen die kosyn
en die windklok klingel
sy eie melodie
voor by die deur
in die nagtuin vlak by my venster
kriek twee amoreuse krieke
in morsekode
hul liefde vir mekaar
en voor op die strandduin
skel ‘n kiewiet
onthuts
op sy nagtelike terrein
‘n nagmot klap-klap teen die straatlig vas
veraf ruis die see
soos in ‘n skulp hier dig teen my oor
‘n hond in die township
blaf aanhoudend
en die blitspatrollie-sirene
skrei deur die nagstilte
op die deurpad verby
dan is dit dagbreek
en die muezzin roep
Allah

Gordonsbaai

Gordonsbaai
in kolle skadu
van die ou melkhoutboom
skrop ek nes in die sand
‘n luilekker-lêplek
en pak my piekniekmandjie uit
die koelte
en koesterende son
spoel afwisselend in golfies
oor my lyf
en my tone teken
patrone op die sand
ek rangskik doppies
skulp en klippies
soos ‘n kind wat vir die eerste keer
die strand se skat
ontdek
‘n roomyskarretjie
klingel hoopvol verby
hier voor my op die rots
skud ‘n duiker sy vere reg
op die deining wieg vissersbootjies
en in die verte
lê die persblou skiereiland
wasig agter ‘n sluier deinserigheid
dan knipoog en wink
die wit brandertjies vir my
kom ons speel
tussen rots en wier
dis puur plesier
yskoud
bruisend soos sjampanje
ek tintel
en gryp die dag

Mis

Mis

die digte oggendmis
lê vanoggend
vlak
by my voordeur
ek hoor iewers naby
die tarentaal se skel
en ruik die spoor
van die ebgety
niks
is sig- of tasbaar nie
maar ek weet
teen tienuur sal die son weer skyn
ek sal weer alles
duidelik
onderskei

Net maar tydelik..

Net maar tydelik
 
op die hoogwatermerk
lê die uitskot van verganklikheid
eenkant
uitgespoel
as ek knarsend aangestap kom
oor die skulpgruis
ruik ek reeds die dood
in bolle rooiaas
wat stinkend op die strand
ontbind
hier moet ek fyntrap
oor die dop van ‘n krap
met net drie pote
‘n sandhaai wat witpens na bo
grynslag
met ‘n oop bek vol skerp tandjies
en hol oogbanke
gister se ywerige seemeeu
wat eenkant
oopgespalk lê
in sy doodskleed van nat vere
ontsier met growwe sand
skulpgruis en koeksels wier
die eens-sierlike deurskynende kwal
wat nou vergaan het
tot drillerige jellievis-lyk
waaraan ‘n horde slak-asers lustig vreet
‘n plastieksak halfvol sand
lê soos ‘n verlore siel
ook
vasgeval in die getypoel
‘n koeksel vislyn
‘n plastiek-haarkruller
‘n baba-fopspeen
blikkies en pakkies
berei die plek vir ons voor
soos konfetti by ‘n bruilof

Alomteenwoordigheid

Alomteenwoordigheid

ek sal jou herken
orals
op bekende plekkies
elke somersdag weer spore trap
op die nat sand
in die lag van my ligte luim
hoor ek jy eggo
terug
dan is jou hand in die streling
van die seebries
oor my wang
jou waarde in die aand
se skemerglans
en jou vingerafdruk
op die maan
ek hoor jou
sentiment
in die klank van ‘n bekende melodie
ek sien jou op elke bladsy
van my lewensboek
aan ‘n geliefkoosde kussing
en in die geur van ‘n gereg
ruik ek steeds
jou nabye teenwoordigheid

Groot Sewe

Groot Sewe

log en knoetsig
dog ligwiegend
dryf jul
op die deining van die baai
en verklap jul ligging
met vee-spuit
en diep basuin
die golwe spoel
strelend
koel
oor jul blink lywe
dan
skielik
spelend
stertpronkend
groet jul
en sak terug
in die beskutte diepte
van die see

Dolce Vita

Dolce vita

ja
ek tel my seëninge
een vir een
daagliks
die daeraad oor Valsbaai
is perskerosig
en saggeel soos heuning
ek trap nat spore
voor die deur op die môredou
wat koel oor die grasperk lê
die deining van die see
klots-klots
teen die voorste rots
die misterie
mistigheid
en vreemde klanke van die nag
die loei en swiep
huil en sing
van die stormwind
is verby
vergete en reeds vergeef
want die soutlug is vanoggend sag
ek proe dit op my lippe
en voel dit aan my wang
die winklok klingel
fyntjies
die kanarie tril
suiwer
sy dankbaarheid uit


die malteser lek selfvertroostend
aan sy porsie been
en vanaf sy balkontroon
bespied
die gemmerkat sy terrein
‘n trop tarentaal wei
gespikkeld
om die maalklip rond
die witte behoedsaam
eenkant

haai
dis amper tyd vir tee

Friday, 25 January 2013

My sepie

My sepie

nog ‘n dag glip
soos nat seep
deur my hande
ek wil dit vashou
en inryg
as kleinode
soos krale aan ‘n lewenssnoer
elke episode
eiesoortig;


die geletjies was gelukkies
swartes vir swaar vergeet
wittes is kan-nie-meer-onthou
rooies vir iets spesiaals
bloues en skakerings groen
is my geliefde see en water
pienkes en perses
vir plesiertjies
nou lê hul styf
ingeryg
in ‘n krono-snoer
amper genoeg
vir afknoop
en bêre

Net maar tydelik..

 
...net maar tydelik


op die hoogwatermerk
lê die uitskot van verganklikheid
eenkant
uitgespoel
as ek knarsend aangestap kom
oor die skulpgruis
ruik ek reeds die dood
in bolle rooiaas
wat stinkend op die strand
ontbind
hier moet ek fyntrap
oor die dop van ‘n krap
met net drie pote
‘n sandhaai wat witpens na bo
grynslag
met ‘n oop bek vol skerp tandjies
en hol oogbanke
gister se ywerige seemeeu
wat eenkant
oopgespalk lê
in sy doodskleed van nat vere
ontsier met growwe sand
skulpgruis en koeksels wier
die eens-sierlike deurskynende kwal
wat nou vergaan het
tot drillerige jellievis-lyk
waaraan ‘n horde slak-asers lustig vreet
‘n plastieksak halfvol sand
lê soos ‘n verlore siel
ook
vasgeval in die getypoel
‘n koeksel vislyn
‘n plastiek-haarkruller
‘n baba-fopspeen
blikkies en pakkies
berei 'n plek vir ons voor
soos konfetti by ‘n bruilof

ek en Hy...

ek en Hy....

en as dit dan
vandag
my laaste lewensdag was
dan was dit goed so
en reg
want dan het ek op die Heer se spierwit sand
my laaste spoor getrap
en vir oulaas
om my enkels
die koelte van Sy Gety gevoel
met my kop gerig
op die droomwit wolk
omhoog
was Sy Seebries my diepe asemteug
dan was dit toe al
net Hy en ek

Aan die anderkant

Aan die anderkant...   kalmte
omvou my
op hierdie oomblik
vandag
vlak by die laagwater-rots
wriemel ek met my kaal tone
in die nat sand
en verwonder my
aan die koeëlronde gaatjies van die krap
heel tevrede
met hul kort eenvoudige bestaan
om net krap te wees
langs my lê lyke
ontwortelde seebamboes
op die skoongespoelde strook
witsand
dié het ook maar sy vieslike seegemors
op die hoogwaterrand
‘n ou man met sonhoed
gooi skulpies vir sy waterhond
wat plas van plesier
oor die ontblote rots
‘n briesie lig my hare
die sonlig streel my aangesig
sagkens
ek ruik die see
dan sien ek flarde watte
saamvloei
teen die Steenbrashang
en my oog volg wolkpatrone
na die gesigseinder oor die skier
mistig misterieus
ek hoor kalmerend
hipnotiserend
die koor van branders in harmonie
wat my uitnooi
wil inspireer en ompraat
spoel saam na verre kuste
maar sal die kalmte
daar
ook so in my siel kan
kom rus

'n Handvol silwer

‘n Handvol silwer

met die verbystap
vooruit
knars jul stewels oor die strand se mosselskulp
oor elke skouer
swaai trots
soos trosse uit die beloofde land
stringe blinksilwer vis
jul dag
is uit die see gegryp

Tsunami

Tsunami

ook oor my wese
het die fratsgolf
onverhoeds kom spoel
my liggaam
ru opgeraap
weggeslinger
en van my gees geskei
oor die chaos van vernietiging
dryf ek
weerloos
op die windkolk
op soek na waar ek is
en wie ek was
en wonder of ek myself dalk
iewers weer
in die puin sal vind

Mooi dae

Mooi dae

ek ryg vandag vir jou
hierdie mooi somersdae in
aan ‘n silwerdraad
as blink glaskraletjies
wat die songlans sal vang
en in ‘n kleureboog
sag
sal terugkaats
op jou wang

Ek wens..

Ek wens dat jy...

ek wens dat jy nog
saam met my kon droom
en spierwit lugkastele bou
jou vlerke wyd-oop kon sprei
en jou aardse ankers
lig
en wens jy kon ook
die sonlig vang en na die maan
verlang
as jy maar wou
leef
vir die hier
en nou
ek wens
jy wou weer
my hand kom vat

Meermin

Meermin

was ek maar ‘n meermin
vinvlugtig
deinend
in die golwing van die see
geruisloos
soepel
slank
om vaartbelyn vorentoe
opwaarts
deur die groen te gly
of diep-diep
af te duik
liefderyk
klotsend
omvou
van die meer
wat ek so bemin
had ek maar die voete
van ‘n meermin
was ek meer
volkome
en nie min-der nie

Skadukant

Skadukant

ek sleep jou
swaar
aan my voete saam
ek wil jou

afskud
maar jy klou verbete vas
al voel ek
die son van voor
welbehaaglik op my aangesig
bly jy onwillekeurig
koel
donker en morbied
‘n meeloper
en draai ek om na jou skadukant
koggel jy my
en stap triomfantelik
vooruit

Verse

Verse

branders
spoel my verse soos sierskulp
van glansperlemoer
uit
op die strand
dit rol oop
tot voor jou voet
om opgetel te word
druk dit teen jou oor
en luister
hul praat met jou
van misterie
uit die diepsee
van die siel

Askies

Askies!

kom
slaan jou hande saam
en jubel in jou hart
dis mos vandag weer
so‘n askies dag
kom ons vergeet en vergeef
gister se gure weer
en vra askies vir
die nat en kou en klamte
askies
vir die Dokter se swiepwind
en flarde wolk
in die winterson se stralebaan
askies
dat die gety weer die witsand
met seebamboes kom besmeer het
kom
hys
nou maar die Strand se blou-oranje vlag
die varsgroen het mos weer
oor ons siele kom spoel
gemoedere is verfris
deur so ‘n skitterdag
‘n bonus van Bo

Bevryding

Bevryding

koelgroen water
vou
sag soos heuning
om my lyf
streel en liefkoos
my
koesterend
ek dryf gewigloos
bevry
in naaktheid


die uitspansel bo
‘n ligblou koepel van
my hemel

Proksie

Proksie

ek weet nou-al
dat skemer oor die skiereiland
saans
net nóg
‘n glansende sonsondergang
sal vervang
seestrome in die baai
sal steeds saamvloei
in skakerings blou
die kiewiet sal weer snags skel
en die suidoos nog kom lamenteer
ja
die trop tarentaal
sal slakke uitskrop in my voortuin
maar ek weet noual
ek sal nie meer die oggendwasigheid sien
of die laatsomer se middaggloed ontbeer
sal ek dit alles mis
as ek weg is
nee
wag
ek het ‘n plan
jy sal mos agterbly
ek gee jou proksie
om vir my part
voort te leef
en nog ‘n dag aan te gryp

As dit snags buite kriek..

As dit snags buite kriek....

in die donkerte
wat stil om my vou
lê ek toe-oog
en luister na my siel
woorde begin blom
en tros saam in versies
wat ek soos blou forget-me-nots

moet pluk
en droogpers
op papier

Strand

Strand

met donkerbril op my neus
onder ‘n wyerandhoed
en belaai met ‘n strepiesonsambreel
twee rooi strandstoele
onder arms vasgeknyp
brand ek kaalvoet oor die zebrastreep
dis ‘n mooi dag vandag
teen wit vlieswolkies
lê die skiereiland helderpers
en blou-blou
afgeëts
en nou met laagwater
hier op Melkbaai
spoel wit brandertjies om my enkels
en spat yskoud
teen my kaal bene op
netnoumaar
wieg ek agter op die golwing
vandag ná Paas-Maandag
is die strand weer ons s’n
wydgestrek
leeg en skoon
‘n April-stil dag
‘n dag waarin jy die Skepper orals sien
in die skakerings van die see
borrelende krapgaatjies in die natsand
‘n kleuter aan die hand
twee witkoppe sy aan sy
die son se streling op my vel
ons klink ‘n blikkie Coke
kou aan ‘n samoosa
en leun welbehaaglik agteroor
salig
om mens te wees
alles nog só te kan geniet
en die dag se gawes
aan te gryp

Laaste Boodskap

‘n Laaste Boodskap van Vrede
 
mag die diepe vrede
van aanrollende wit branders
uit die groot oseaan
jou oorspoel
mag jy omring word
met die vrede van genade
soos wolke op lugstrome
wat jou weldadig
tegemoet vloei
mag die sterrehemel
vanuit die donker hemeltrans
immer vreugdevol
‘n vreedsaamheid
na jou toe flonker
mag ‘n sagte vrede
van die aardbodem
waarin jy rus
jou in sy omhelsing
koester
mag die getrouheid en vrede
van die waaksame herders
konstant aan jou sy
vertoef
mag die Ewige Vrede
van die Hemelvors
jou laaste rusplek
met sy glans
oorkoepel

Naggeluide

Naggeluide

dis halfdrie na middernag
iewers in die huis tik
die horlosie
eentonig ure af
‘n deur ratel liggies teen die kosyn
en die windklok klingel
sy eie melodie


voor by die deur
in die nagtuin vlak by my venster
kriek twee amoreuse krieke
in morsekode
hul liefde vir mekaar
en voor op die strandduin
skel ‘n kiewiet
onthuts
op sy nagtelike terrein


‘n nagmot klap-klap teen die straatlig vas
veraf ruis die see
soos in ‘n skulp hier dig teen my oor
‘n hond in die township
blaf aanhoudend en die blitspatrollie-sirene
skrei deur die nagstilte
op die deurpad verby

Eb

 Eb
dis weg
dis weg
soos ‘n leë plastiekkardoes
lig opgeswiep
deur die suidoos
ver weg vervloë
is ons jonkheid
die droom en ideaal van gister
die planne vir die môre
die hoop gerig op ‘n horison
soms sleur die einste plastiekkardoes
op hoogwater weer terug
en lê dan half-vol seesand
as die ebgety terugtrek
swaar
soos ‘n vasgevalde siel
ontsierend
op die mooi wit strand
wat was
sal nooit weer wees nie
ek voel meteens magteloos
daar’s ‘n kilte om my hart
en ‘n donker stilte omgewe my
ek voel ‘n leemte van verwyt
en ek wens ek kon weer
teruggaan in tyd
aanmekaar las en lym
wat stukkend was en seer is
regmaak
en óórleef
 
 

Hottentotsholland

Hottentotsholland

die handvol vere
pof uit tot ‘n donsige kraag
oor jou skouers gedrapeer
die koel noordweswindjie jaag vooruit
en kondig aan
pasop
hier sak nou-nou
‘n lekker buitjie uit
staproetes
tussen fynbos en heide
word ‘n ontdekkingstog
en langs die pad
vermaan borde
dat braaivleisvuurtjies
verwoestend
met vuur en vlam
kan weghol
en ‘n brandpad
oopvreet
teen sonsondergang
lê die perspienk hange
met grys en diepblou skadu’s
vol misterie
ingekleur
en saans met met skemer
begin liggies
flonker
vanaf Steenbrasdam se uitkykkant
 

Valsbaai

Valsbaai

vanaf die Steenbraspad se uitkykkrans
in ‘n winkelhaak-omhelsing
van bergkrans tussen Hangklip en Kaappunt
lê Valsbaai se kartelwater
so sereen en stil
en kan ek vandag met die oog
die sierpatroon volg
van seestrome
tot hieronder
waar skuimbranders sagkens oor die rotse streel
waagmoedig kompeteer seilskepies
om ‘n voorste plek vandag
nuuskierig vergesel
van ‘n skool speelse dolfyne
wat vinvlugtig klief
duik en seil
en as die son laatmiddag
skarlakenrooi
terugsink op die horison
se donker silhoeet
omsoom
met geweefde goud
sak ‘n dowwe deinserigheid toe
en ek sien waarskuwend
die eerste flits van die vuurtoring

Valsbaai
geboorteplek van die stormwind
flonkerliggies verraai waar’s
Vishoek Kalkbaai Simonstad
die ankerplek en speelplek
van die pikkewyn
tussen seebamboes
en bruingety op branders
die aardplek van aronskelk
en hotnotsvy op die duineveld
langs melkwit halfmaanstrande

Gordonsbaai


Gordonsbaai

in kolle skadu
van die ou melkhoutboom
skrop ek nes in die sand
‘n luilekker-lêplek
en pak my piekniekmandjie uit
die koelte
en koesterende son
spoel afwisselend in golfies
oor my lyf
en my tone teken
patrone op die sand
ek rangskik doppies
skulp en klippies
soos ‘n kind wat vir die eerste keer
die strand se skat
ontdek
‘n roomyskarretjie
klingel hoopvol verby
hier voor my op die rots
skud ‘n duiker sy vere reg
op die deining wieg vissersbootjies
en in die verte
lê die persblou skiereiland
wasig agter ‘n sluier deinserigheid
dan knipoog en wink
die wit brandertjies vir my
kom ons speel
tussen rots en wier
dis puur plesier
yskoud
bruisend soos sjampanje
ek tintel
en gryp die dag

Thursday, 24 January 2013

Pot goud

Pot goud

laag in die Helderberg-kom
damp prismakleure
in ’n reënboog op
skarlaken
pienk en pers
geel en groen
vloei ineen
tot ‘n breë seintuur
van opwinding
en belofte
ons ry
onderdeur
die koepel van kleur
en ek besef meteens
sowaar
hier is mos ons pot van goud
dis die golwing van die see
smaraggroen
pers granietpieke
met diep grysblou skadu’s
oortrek van ‘n sagwit donskombers
dis die sonsondergang
skarlaken
met goud omglans
die flarde wolk
wasig
room en rosigpienk
dis ‘n seemeeu
wit
op wieke van die wind

Meeu


Meeu

vanaf jou hangplek
hoog op die stroom van die wind
bespied jy
die boot se aankoms by die laaiplek
en daal skielik
met kragtige rem van jou vlerk
skellend
vir ‘n plek tussen veterane
wat byt en klap en pik
vir gratis porsies snoek
‘n bonus uit die boot

Gety

Gety

op aandrang van die maan
spoel die gety vanaand
geruisloos
behoedsaam
sagkens nader
silwerwit
dring en kruip dit
hoër op teen die strand
dan met reëlmaat en momentum
bruisend aggressief
kalf dit aan die duine weg
tot by die laaste hoogwatermerk


vlak by die drumpel van my deur
lê sy visite-kaart
waar daar eens spore was
kruip krap en seeslak
tussen uitskot-wier
dan soos klokslag
eb die vloed
en trek weer ver terug
ontbloot intiem
die boesem van die see
naak en broos

Pikkewyn

Pikkewyn

nonnetjies
wiegelwaggel sedig langsmekaar
koppe saam in skindergesprek
‘n monnik mediteer
sedig
onder ‘n koeltestruik
donstieners
nog pik nog wyn
soek onseker na ‘n staanplek
in die son
viswinners duik
vlugvinnig
blinkend
tussen flarde seebamboes
en eenkant lê ‘n uitskop-eier

Vlieër

Vlieër

in die lokval van die wind
dans en tol my vlieër
grynslaggend
tartend
met swiepende stert
hoog
bokant ons klein stippels op die strand
dan ruk hy moedwillig
uit protes
aan sy dubbelanker
wil hoër
sterker
verder
op die wind
maar as ek hom met my wil
afwaarts intrek
teen die speling van die wind
en netjies inkatrol
lê hy leweloos
net pap plastiek
oorwonne voor my voet

Klaradyn

 
Klaradyn
wil jy wals vandag in koningsblou
Klaradyn
of polkadans in groen
wil jy tiekiedraai
dat ons ry op ry
jou uitskopvalletjies kan sien
of wil jy toi-toi
met wit vaandels omhoog
gretig
tartend
verder
vorentoe
kom dans Klaradyn
meesleurend
tergend
‘n tango in donkerpers
kom swaai verleidelik
‘n sensuele samba
of liggies
‘n slampamperwieg
in watertafsy van turkoois
miskien is dit maar jou af-dag
Klaradyn
dan spoel en klots jy
bruin en lui
oor rots en duin
kom vertel my Klaradyn
kom vertel
hoe jy swaai
en spoel
en speel
op maat van die wispelwind

Sedoos

Sedoos

wispelturig
tussen harmonie
van sagte melodie
of kragtige simfonie
dryf jou storm en drang
soos die Valkyrie in vlug
swiep en swaai jy
kerm en kla jy
lig vrypostig ‘n hoed
steel parmantig ‘n sambreel
pluk aggressief terug
wat jy wil hê
moet joune wees
en plak dit dan weer vies
net weer iewers anders
neer
jy daag skielik op
onaangekondig
onttrek of verdwyn
geheimsinnig stil
soms brand jy
en skroei venynig
soms streel en lispel jy
met die reën as jou reismaat
soms jaag jy wolke ongeduldig aan
of kruip jy listig weg
vir dae lank aaneen
om skelmpies te beplan
aan jou nuwe strategie
dan sien ons jou weer
dans
in dwarrels sand
of hoe jy huppel
van brander tot brander
in wit wasigheid
omhul
en ons
ons waai maar wapperend
soos wasgoed
of flarde plastiek aan die heiningdraad
op die maat van jou musiek

'n Spoorstorie

‘n Spoorstorie

op die nat sand
lê rye voetspore
tweerigting ingetrap
elk met uitkenbare patroon
doelgerig op pad
iewersheen

met my seemeeuveer
toor ek julle
elkeen
wat voor my spore kon trap

kom vergader hier om my
kom vertel
elk
jul eie storie

Voel jy ook soms...

Voel jy ook soms...

voel jy ook soms
na die stormwind
op see
soos troebel water
wat opdam in ‘n rotspoel

is jou siel
jou gemoed
soms deurmekaar
soos ‘n bondel gekoekte vislyn
impotent
deurskynend
soos ‘n jellievis
onderstebo op die sand
onherkenbaar geroes
soos ‘n inlê-blik
stinkend
soos ‘n klos groen seewier
of rooiaas

alleen
soos ‘n uitgespoelde skoen
op die hoogwatermerk
agtergelaat

Strandloper

Strandloper

o
ruik jy die soutlug van die see
op die ligte bries

kom
stap strandlangs
dis ebgety
die natbruin rotse lê
ontbloot
en offer hul opbrengs
‘n skat
van skulp en wier en seebamboes

in ‘n getypoel
inspekteer deursigtige vissies
‘n geroeste blik
ek wonder waarvandaan
en hoelank al

in lang seestewels
staan ‘n enkele visserman
vandag diep
geduldig
miskien al moedeloos
dalk is vis maar skaars
in hierdie sloep

op die hoogwatermerk
lê die uitskot van die see
opdrifsels plastiek
‘n klos gekoekte vislyn
die been van ‘n pienk plastiekpop
en iemand se dooie hond
stokstyf met pote na bo

teen die gesigseinder
ver diepsee in
lê die horison
van skiereiland en see
afgeëts
‘n donker streep
baftablou

Wednesday, 23 January 2013

Getyverse

"....dis sommer net rommelary
hierdie versies van my;
party is swaar
en ander lig
maar hul word almal gemeet
aan sielsgewig;
lees dit stadig hardop
vir kommas en stop;
dit sê net wat ek sien
en vertel hoe ek voel -
dis eintlik maar net
vir ons twee bedoel!"